Nehemia 12:19-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

19. Mattenai van Jojarib, Ussi van Jedaja,

20. Kallai van Sallu, Eber van Amok,

21. Gasabja van Gilkija, Netanel van Jedaja.

22. Die familiehoofde van die Leviete is in die tyd van Eljasib, Jojada, Joganan en Jaddua opgeskryf, die priesters tydens die regering van Darius die Pers.

23. Die Levitiese familiehoofde is opgeskryf in die Kroniekboeke tot met die tyd van Joganan seun van Eljasib.

24. Die hoofde van die Leviete was Gasabja, Serebja en Jesua seun van Kadmiël. Regoor hulle was hulle ampsgenote wat die Here moes loof en dank volgens die voorskrif van Dawid, die man van God. Die afdelings het regoor mekaar diens gedoen.

25. Die ander was Mattanja, Bakbukja, Obadja en Mesullam.Talmon en Akkub was poortwagte wat diens gedoen het by die voorraadkamers in die poorte.

26. Hierdie mense het in die tyd van Jojakim seun van Jesua, seun van Josadak, en in die tyd van die goewerneur Nehemia en die skrifgeleerde priester Esra diens gedoen.

27. Met die oog op die inwyding van die muur om Jerusalem is die Leviete oral in hulle woonplekke opgespoor en na Jerusalem toe gebring. Hulle moes die inwyding feestelik vier met lofliedere en met die musiek van simbale, harpe en liere.

28. Die sangers is bymekaargebring uit die omgewing van Jerusalem, uit die Netofanedersettings,

29. uit Bet-Gilgal en uit die boerderygebiede van Geba en Bet-Asmawet. Die sangers se nedersettings was almal om Jerusalem gebou.

30. Die priesters en die Leviete het eers hulleself gereinig en daarna die volk, die poorte en die muur.

31. Ek het die leiers van Juda op die muur laat klim en toe twee groot kore saamgestel. Die een het ek suid op die muur langs laat gaan tot by die Vullispoort.

32. Agter hulle het Hosaja en die helfte van die gesagvoerders van Juda geloop,

Nehemia 12