Matteus 9:21-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. Sy het vir haarself gesê: “As ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.”

22. Jesus het omgedraai, haar gesien en gesê: “Wees gerus, dogter, jou geloof het jou gered.”Van daardie oomblik af was die vrou gesond.

23. Daarna het Jesus by die huis van die raadslid gekom. Toe Hy die fluitspelers sien en die klomp mense wat te kere gaan,

24. sê Hy: “Gaan weg, want die dogtertjie is nie dood nie, sy slaap net.”Maar hulle het Hom uitgelag.

25. Nadat die mense uitgejaag was, het Hy in die huis ingegaan, die dogtertjie se hand gevat en sy is uit die dood opgewek.

26. Berigte hieroor het deur daardie hele omgewing versprei.

27. Terwyl Jesus daarvandaan verder gaan, het twee blindes Hom gevolg. Hulle het aanhoudend geskreeu: “Ontferm U tog oor ons, Seun van Dawid!”

28. Jesus het in die huis ingegaan, en die blindes het daar na Hom toe gekom. Hy vra toe vir hulle: “Glo julle dat Ek dit kan doen?”“Ja, Here,” antwoord hulle Hom.

29. Toe raak Hy aan hulle oë en sê: “Wat julle glo, sal gebeur.”

30. Hulle kon toe sien, maar Jesus het hulle baie streng beveel: “Hiervan moet niemand hoor nie.”

Matteus 9