Matteus 27:52-66 Afrikaans 1983 (AFR83)

52. Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek,

53. en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan baie mense verskyn het.

54. Toe die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

55. Daar was ook baie vroue wat op 'n afstand gestaan en kyk het. Dit is hulle wat vir Jesus van Galilea af gevolg en vir Hom gesorg het.

56. Onder hulle was Maria Magdalena, Maria die moeder van Jakobus en Josef, en die moeder van die seuns van Sebedeus.

57. Laat die middag het daar 'n ryk man aangekom. Dit was Josef van Arimatea, wat self ook 'n volgeling van Jesus was.

58. Hy het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra, en Pilatus het beveel dat dit vir hom gegee moet word.

59. Josef het die liggaam geneem en dit in skoon linne toegedraai

60. en dit daarna neergelê in sy eie nuwe graf wat hy in die rots uitgekap het. Hy het 'n groot klip voor die ingang van die graf gerol en weggegaan.

61. Maria Magdalena en die ander Maria was ook daar en het reg voor die graf gesit.

62. Die volgende dag, die dag na die Vrydag, het die priesterhoofde en die Fariseërs by Pilatus gekom

63. en vir hom gesê: “Meneer, ons onthou dat toe daardie bedrieër nog geleef het, hy gesê het: ‘Na drie dae sal ek uit die dood opgewek word.’

64. Gee dan bevel dat die graf drie dae veilig bewaak word, sodat sy dissipels hom nie dalk kom steel en vir die mense vertel: ‘Hy is uit die dood opgewek’ nie. Dan sal die tweede bedrog erger wees as die eerste.”

65. Pilatus antwoord hulle: “Hier is vir julle 'n wag; gaan beveilig die graf so goed as julle kan.”

66. Hulle het toe gegaan en die graf beveilig deur die klip te verseël en die wag daar te laat bly.

Matteus 27