5. “Maar die genooides het hulle nie daaraan gesteur nie, en die een het na sy stuk grond en 'n ander een na sy werkplek toe gegaan.
6. En party het sy slawe gegryp en mishandel en doodgemaak.
7. Die koning het kwaad geword en sy leër gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad aan die brand te steek.
8. “Toe sê hy vir sy slawe: ‘Alles staan klaar vir die bruilofsfees, maar die genooides was dit nie werd nie.
9. Gaan nou uit na die straathoeke en nooi soveel mense as wat julle teenkom, na die bruilofsfees toe.’
10. Toe het daardie slawe uitgegaan op die strate en almal wat hulle gekry het, bymekaargemaak, slegtes sowel as goeies. So het die feessaal vol gaste geword.
11. “Toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar 'n man wat nie bruilofsklere aanhet nie,
12. en hy sê vir hom: ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder bruilofsklere aan?’ Maar die man kon niks antwoord nie.
13. Toe sê die koning vir sy dienaars: ‘Bind sy hande en sy voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’
14. “Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.”
15. Toe het die Fariseërs gaan besluit om Jesus met 'n vraag in 'n val te lok.
16. Hulle stuur toe van hulle volgelinge saam met 'n aantal Herodiane om vir Hom te sê: “Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek en getrou aan die waarheid die wil van God bekend maak sonder om mense in aanmerking te neem, want u let nie op die aansien van persone nie.
17. Sê vir ons wat dink u: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie?”
18. Maar Jesus het deur hulle valsheid gesien en vir hulle gesê: “Huigelaars! Waarom stel julle vir My 'n strik?
19. Wys vir My die muntstuk waarmee die belasting betaal word.”Hulle bring toe die muntstuk vir Hom,
20. en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en naam is hierop?”
21. “Die keiser s'n,” antwoord hulle.Jesus sê vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”
22. Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas en het hulle Hom met rus gelaat en weggegaan.
23. Op dieselfde dag het daar Sadduseërs by Jesus gekom. Dit is hulle wat beweer dat daar nie 'n opstanding is nie. Hulle vra Hom toe: