Matteus 20:14-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Vat jou geld en gaan huis toe. Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou.

15. Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?’

16. “So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste.”

17. Terwyl Jesus na Jerusalem toe op pad was, neem Hy die twaalf dissipels opsy, en so in die loop sê Hy vir hulle:

18. “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel.

19. Hulle sal Hom uitlewer aan die heidene, wat Hom sal bespot en gesel en kruisig. En op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word.”

20. Toe kom die vrou van Sebedeus met haar twee seuns by Jesus en kniel voor Hom om Hom 'n guns te vra.

21. “Wat kan Ek vir u doen?” vra Hy vir haar.Sy sê vir Hom: “Belowe my dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk langs U mag sit, een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.”

22. Toe antwoord Jesus: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die lydensbeker drink wat Ek gaan drink?”“Ons kan,” antwoord hulle.

23. Jesus sê toe vir hulle: “Ja, my beker sal julle drink. Maar om aan my regter- en my linkerhand te sit, daaroor besluit Ek nie; dit is vir dié vir wie my Vader dit gereed gemaak het.”

24. Toe die tien ander dissipels dit hoor, was hulle kwaad vir die twee broers.

25. Jesus roep hulle toe nader en sê: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik.

26. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees;

27. en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees.

28. So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

Matteus 20