Markus 9:21-38 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. Jesus het vir die pa gevra: “Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?”

22. “Van kleins af,” antwoord hy, “en baiekeer het die gees hom al in vuur en in water gegooi om hom dood te maak. As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.”

23. “ ‘As U iets kan doen,’ sê jy,” antwoord Jesus. “Vir die een wat glo, kan alles.”

24. “Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof.”

25. Toe Jesus sien dat 'n menigte mense aangestroom kom, het Hy die onrein gees skerp aangespreek: “Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou: Gaan uit hom uit en moet nooit weer in hom invaar nie!”

26. Die gees het hom laat skreeu en hewige stuiptrekkings laat kry en toe uit hom uitgegaan. Dit het gelyk of die seun dood is, sodat baie mense gesê het: “Hy is dood.”

27. Jesus het hom egter aan die hand gevat en opgehelp, en hy het opgestaan.

28. Nadat Jesus huis toe gegaan het, toe hulle alleen was, het sy dissipels Hom gevra: “Waarom kon ons die gees nie uitdrywe nie?”

29. Hy het vir hulle gesê: “Hierdie goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie.”

30. Toe het hulle daarvandaan weggegaan en deur Galilea gereis. Jesus wou nie hê dat iemand anders dit te wete moes kom nie.

31. Hy het sy dissipels geleer en vir hulle gesê: “Die Seun van die mens word in die hande van mense oorgelewer, en hulle sal Hom doodmaak; en drie dae nadat Hy doodgemaak is, sal Hy opstaan.”

32. Hulle het dit nie verstaan nie, maar hulle was te bang om Hom daaroor uit te vra.

33. Toe hulle daarna in Kapernaum by die huis kom, het Hy vir hulle gevra: “Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?”

34. Hulle het egter niks geantwoord nie, want hulle het langs die pad met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is.

35. Jesus het gaan sit en die twaalf geroep. Hy sê toe vir hulle: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees.”

36. Toe het Hy 'n kindjie geneem en hom tussen hulle laat staan. Hy het sy arm om hom gesit en vir hulle gesê:

37. “Elkeen wat so 'n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang nie net vir My nie, maar ook vir Hom wat My gestuur het.”

38. Johannes het toe vir Hom gesê: “Here, ons het iemand gesien wat in u Naam bose geeste uitdrywe. Ons het hom probeer keer, omdat hy ons nie volg nie.”

Markus 9