Markus 10:22-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

22. Hy het egter geskrik toe hy dit hoor en het bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.

23. Jesus kyk toe na sy dissipels rondom Hom en sê vir hulle: “Hoe moeilik sal mense wat ryk is, in die koninkryk van God kom.”

24. Die dissipels was verbaas oor hierdie woorde van Hom. Jesus sê toe verder vir hulle: “Kinders, hoe moeilik is dit om in die koninkryk van God te kom.

25. Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te kom as vir 'n ryke om in die koninkryk van God te kom.”

26. Dit het hulle geweldig ontstel en hulle het vir mekaar gesê: “Wie kan dan gered word?”

27. Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik.”

28. Petrus sê toe vir Hom: “Kyk, óns het alles verlaat en ons volg U.”

29. Jesus antwoord: “Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of eiendom nie,

30. of hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe.

31. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.”

32. Op pad Jerusalem toe het Jesus voor hulle uit geloop. Dit het die dissipels verontrus en die mense wat agterna gekom het, laat bang word.Toe het Hy weer die twaalf opsy geneem en hulle begin vertel wat met Hom gaan gebeur:

33. “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom aan die heidene uitlewer.

Markus 10