9. “Op die sewende dag moet hy al sy hare afskeer. Hy moet sy hare, sy baard, sy wenkbroue en al sy liggaamshare afskeer. As hy dan sy klere gewas en hom gebad het, is hy rein en mag hy in sy tent ingaan.
10. “Op die agste dag moet hy twee ramlammers en 'n jaaroud ooilam, almal sonder liggaamsgebrek, 'n graanoffer wat bestaan uit vyf kilogram meel wat met olyfolie aangemaak is, en 'n halwe liter olyfolie na die priester toe bring.
11. Die priester wat die reiniging doen, moet dan die persoon wat gereinig word, saam met sy offergawes bring na die ingang van die tent van ontmoeting toe, in die teenwoordigheid van die Here.
12. Daarna moet die priester die een ramlam en die halwe liter olie as 'n skuldoffer bring; hy moet dit as 'n beweegoffer vir die Here aanbied.
13. Hy moet die lam slag op dieselfde plek waar die sondeoffer en die brandoffer geslag word, op die gewyde plek, want die skuldoffer is net soos die sondeoffer. Dit kom die priester toe, dit is 'n besondere gewyde gawe.
14. Die priester moet van die bloed van die skuldofferlam smeer aan die regteroorlel, die regterduim en die regtergroottoon van die persoon wat gereinig word.
15. Daarna moet die priester van die olyfolie in die palm van sy eie linkerhand gooi,
16. 'n vinger van sy regterhand in die olie druk en dit sewe maal sprinkel in die teenwoordigheid van die Here.
17. Die priester moet van die olie wat in sy handpalm oorbly, bo-oor die skuldofferbloed smeer wat aan die regteroorlel, die duim en die groottoon van die persoon is.