12. Josua het omtrent vyf duisend man geneem en hulle 'n verskuilde posisie laat inneem tussen Bet-El en Ai, wes van die stad.
13. Die manskappe het die hele kamp wat noord van die stad moes wees, opgeslaan, maar die ander deel was wes van die stad. Josua het dié nag afgegaan na die laagte toe.
14. Die koning van Ai het gesien daar kom 'n aanval. Die manne van die stad het haastig klaargemaak en hulle het Israel vroeg die môre tegemoet getrek vir die veldslag. Die koning en al sy manskappe is na die plek toe waar hulle Israel wou ontmoet, regoor die Jordaanvallei. Hy het nie geweet van die versteekte afdeling agter die stad nie.
15. Josua en die hele Israel het hulleself laat terugdryf deur die manne van Ai, en in die rigting van die woestyn gevlug.
16. Al die manskappe in die stad is toe vir die agtervolging opgeroep; hulle het Josua agtervolg en is van die stad af weggelok.
17. Daar het geen man in Ai of Bet-El agtergebly wat nie uit is agter Israel aan nie. Hulle het die stad net so oop gelos en het Israel agternagesit.