8. Saam met die ander helfte van die Manassestam het die stamme Ruben en Gad reeds hulle besitting ontvang wat Moses aan hulle toegeken het oorkant die Jordaan, aan die oostekant. Moses, die dienaar van die Here, het die volgende gebied aan hulle toegeken:
9. van Aroër af op die oewer van die Arnonrivier, die stad aan die rivier, die hele Medebahoogvlakte tot by Dibon,
10. al die stede van die Amoritiese koning Sihon wat in Gesbon geregeer het, tot aan die Ammonitiese grens,
11. Gilead met die gebiede Gesur en Maäka, die hele Hermonberg en die hele Basan tot by Salka
12. met insluiting van die hele koninkryk van Og in Basan wat in Astarot en Edreï geregeer het. Og was een van die laaste Refaïete. Moses het hulle verslaan en verdryf.
13. Die Israeliete het egter nie die mense van Gesur en Maäka verdryf nie, en hulle woon nou nog tussen die Israeliete.
14. Net aan die stam Levi het Moses nie 'n eie besitting toegeken nie. Die Leviete is offers aan die Here die God van Israel en hulle ontvang van wat Hom toekom, soos Hy hulle beloof het.
15. Aan die families in die stam Ruben het Moses die volgende gebied toegeken:
16. van Aroër af op die oewer van die Arnonrivier, van die stad af aan die rivier, die hele hoogvlakte tot by Medeba,
17. en tot by Gesbon met al sy stede op die hoogvlakte: Dibon, Bamot-Baäl, Bet-Baäl-Meon,
18. Jahas, Kedemot, Mefaät,
19. Kirjatajim, Sibma, Seret-Sagar op die berg in die laagte,
20. Bet-Peor, Asdot-Pisga en Bet-Jesimot,
21. al die stede op die hoogvlakte, die hele koninkryk van die Amoritiese koning Sihon wat in Gesbon geregeer het. Moses het vir Sihon verslaan en ook die Midianitiese leiers Ewi, Rekem, Sur, Gur en Reba, stamhoofde wat aan Sihon onderhorig was en in die land gewoon het.
22. Die waarsêer Bileam seun van Beor is een van dié wat deur die Israeliete doodgemaak is.