Johannes 5:8-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Jesus sê toe vir hom: “Staan op, tel jou goed op en loop.”

9. Oombliklik het die man gesond geword, sy goed opgetel en geloop.Dit was 'n sabbatdag.

10. Die Jode sê toe vir die man wat genees is: “Dit is 'n sabbatdag; jy mag nie jou goed dra nie.”

11. Maar hy antwoord hulle: “Die man wat my gesond gemaak het, het vir my gesê: Tel jou goed op en loop.”

12. Hulle vra hom toe: “Wie is die man wat vir jou gesê het: Tel jou goed op en loop?”

13. Die man wat gesond geword het, het egter nie geweet wie dit was nie, want Jesus het ongemerk weggegaan omdat daar 'n klomp mense op die plek was.

14. Later kry Jesus hom in die tempel en sê vir hom: “Kyk, jy is nou gesond. Moet nou nie meer sonde doen nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.”

15. Die man het vir die Jode gaan vertel dat dit Jesus is wat hom gesond gemaak het.

16. Die Jode het toe teen Jesus te velde getrek omdat Hy dit op 'n sabbatdag gedoen het.

17. Maar Jesus het Hom teen hulle verweer: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.”

18. Hieroor het die Jode nog des te meer probeer om Jesus dood te maak: Hy het nie net die sabbatdag ontheilig nie, maar God ook sy eie Vader genoem en Hom so met God gelyk gestel.

19. Toe het Hy Hom verweer en vir hulle gesê: “Dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so.

20. Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy doen; en Hy sal Hom nog groter dade as hierdie wys, sodat julle verbaas sal staan.

21. Soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil.

Johannes 5