Johannes 18:20-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. Jesus het hom geantwoord: “Ek het in die openbaar met die mense gepraat. Ek het hulle altyd in die sinagoges en in die tempel geleer, waar al die Jode bymekaar kom; en Ek het niks in die geheim gesê nie.

21. Waarom ondervra u My? Ondervra dié wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.”

22. Toe Jesus dit sê, het een van die wagte wat daarby gestaan het, Hom geklap en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?”

23. Jesus sê toe vir hom: “As wat Ek gesê het, verkeerd was, sê dan wat was verkeerd; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?”

24. Annas het Hom toe geboei na die hoëpriester Kajafas toe gestuur.

25. Simon Petrus het hom nog gestaan en warm maak. Die mense by die vuur vra toe vir hom: “Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?”Hy het dit ontken en gesê: “Nee, ek is nie!”

26. Een van die hoëpriester se slawe wat familie was van die een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou dan nie in die tuin by hom gesien nie?”

27. Petrus het dit weer ontken, en net daarna het daar 'n haan gekraai.

28. Toe het hulle vir Jesus van Kajafas af na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet.

29. Pilatus het buite na hulle toe uitgegaan en gevra: “Watter aanklag bring julle teen hierdie man in?”

30. Hulle het hom geantwoord: “As hy nie 'n misdadiger was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.”

31. Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en veroordeel hom volgens julle wet.”Maar die Jode sê vir hom: “Ons mag nie iemand teregstel nie.”

Johannes 18