Johannes 1:36-50 Afrikaans 1983 (AFR83)

36. Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!”

37. Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg.

38. Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?” en hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” — dit beteken leermeester — “waar gaan U tuis?”

39. Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.”Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis gaan. Dit was omtrent vieruur die middag, en hulle het die res van die dag by Hom gebly.

40. Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het.

41. Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek en vir hom gesê: “Ons het die Messias gekry!” Messias beteken Christus.

42. Hy het hom na Jesus toe gebring. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon seun van Johannes; jy sal Sefas genoem word.” Sefas beteken dieselfde as Petrus.

43. Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea toe te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: “Volg My!”

44. Filippus was van Betsaida afkomstig, van dieselfde dorp as Andreas en Petrus.

45. Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.”

46. Maar Natanael sê vir hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”“Kom kyk,” het Filippus hom geantwoord.

47. Toe Jesus vir Natanael na Hom toe sien aankom, sê Hy van hom: “Hier is 'n ware Israeliet, 'n man in wie daar geen bedrog is nie.”

48. Natanael vra Hom toe: “Waarvandaan ken U my?”“Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien.”

49. Toe roep Natanael uit: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!”

50. Daarop sê Jesus vir hom: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.”

Johannes 1