Jesaja 36:12-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Maar die hoofadjudant antwoord: “Dink julle my koning het my net na julle koning en na julle toe gestuur om dié dinge te sê, en nie ook na die manne wat op die muur sit nie? Hulle sal hulle eie ontlasting moet eet en hulle eie urine moet drink, net soos julle!”

13. Toe gaan staan die hoofadjudant en skree hard in Judees: “Luister wat sê die groot koning, die koning van Assirië!

14. So sê die koning: Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Hy kan julle nie red nie.

15. “En moenie dat Hiskia julle op die Here laat vertrou nie. Hiskia sê: ‘Die Here sal ons sekerlik red; dié stad sal nie oorgegee word in die mag van die koning van Assirië nie.’

16. Moenie na Hiskia luister nie, want so sê die koning van Assirië: ‘Maak vrede met my en kom uit na my toe, dan sal elkeen die vrugte van sy eie wingerdstok en van sy eie vyeboom eet en uit sy eie put water drink

17. tot ek kom en julle wegvat na 'n land toe net soos julle land. Dit is 'n land met koring en wyn, 'n land met kos en wingerde.’

18. Moenie dat Hiskia julle mislei nie! Hy sê: ‘Die Here sal ons red.’ Kon die gode van die ander nasies hulle lande red uit die mag van die koning van Assirië?

19. “Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar is die gode van Sefarwajim? Kon hulle Samaria bevry uit my mag?

Jesaja 36