Jesaja 19:17-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. Juda sal vir Egipte 'n verskrikking wees; elkeen wat hom aan Juda herinner, sal hom bang maak. Hy sal bang wees vir wat die Here die Almagtige oor hom besluit het.

18. Daardie dag sal die inwoners van vyf Egiptiese stede Hebreeus praat, en wanneer hulle 'n eed aflê, sal hulle dit in die Naam van die Here die Almagtige doen. Een van hulle sal Die Verwoeste Stad genoem word.

19. Daardie dag sal daar binne-in Egipte 'n altaar en op sy grense 'n klippilaar wees wat aan die Here gewy is.

20. Hulle sal dien as tekens en hulle sal getuig van die Here die Almagtige se teenwoordigheid in Egipte. As die Egiptenaars tot die Here roep omdat hulle verdruk word, sal Hy 'n redder vir hulle stuur. Hy sal hulle saak behartig en hulle red.

Jesaja 19