Jesaja 14:20-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. maar jy word nie begrawe nie,want jy het jou eie land verwoesen jou eie mense laat doodmaak.Die naam van 'n skurk word nie in gedagtenis gehou nie.

21. Maak reg die plek om sy seuns dood te maakoor die sondes van hulle voorgeslag,dat die seuns nie die aarde in besit kan neemen die wêreld vol stede bou nie.

22. Ek sal hulle aanval,sê die Here die Almagtige.Ek sal maak dat die gedagtenis aan die koning van Babel verdwyn,dat daar niks van hom oor is nie,nie een enkele afstammeling nie, sê die Here.

23. Ek maak sy land 'n blyplek vir uile, 'n rietmoeras.Ek vee Babel weg met 'n besem wat verwoes,sê die Here die Almagtige.

24. Die Here die Almagtige het 'n eed afgelê:Soos Ek My voorgeneem het, so sal dit wees,wat Ek besluit het, sal gebeur.

25. Ek sal die Assiriërs verpletter in my land,hulle op my berge vertrap.Die juk wat op my volk gedruk het, sal weggevat word,die las wat Assirië hulle laat dra het, sal verwyder word.

26. Dit is die besluit wat vir die hele aarde geneem is,my hand is klaar uitgesteek teen al die nasies om hulle te oordeel.

27. Die Here die Almagtige het dit besluit; wie sal dit kan verydel?Sy hand is uitgesteek; wie sal die oordeel kan afweer?

28. In die jaar van koning Agas se dood is hierdie uitspraak gemaak:

29. Julle Filistyne moenie almal so bly weesdat die stok waarmee julle geslaan is, verbreek is nie,want in die plek van die een slang kom 'n giftiger een,en uit dié se eier kom daar 'n vlieënde draak.

30. Die armstes in Israel sal iets hê om te eet,sý behoeftiges sal veilig woon,maar julle Filistyne se nageslag laat Ek van honger sterf,wat van julle oor is, word deur die honger verteer.

31. Huil, poorte! Skreeu, stede!Smelt weg, Filistyneland!Daar kom rookwolke uit die noorde,die vyand se manskappe kom aan, almal in gelid!

32. Wat sal 'n mens die boodskappers van dié nasie antwoord?Die Here het vir Sion tot stand laat kom,sy geteisterde volk vind daar skuiling!

Jesaja 14