Jesaja 10:25-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

25. My toorn teen julle sal nog net 'n kort rukkie duur, dan sal dit die Assiriërs uitroei.

26. Die Here die Almagtige sal hulle met 'n sweep slaan, soos vir Midian by die Orebrots; Hy sal sy stok oor die water uitsteek en die Assiriërs tref soos Hy met die Egiptenaars gedoen het.

27. In dié tyd sal Hy die las verwyder wat hulle op julle skouers gelê het, en ook hulle juk van julle nek af; die juk sal heeltemal van julle af afgeruk word.

28. Die Assiriërs oorval Aja; hulle trek deur Migron; in Mikmas bêre hulle hulle voorrade.

29. Hulle trek oor die pas en sê: “Ons wil vannag in Geba kamp opslaan.”Die inwoners van Rama bewe, dié van Gibea van Saul slaan op die vlug.

30. Skreeu, mense van Gallim! Luister, inwoners van Lajesa! Arme Anatot!

31. Die inwoners van Madmena vlug, dié van Gebim soek skuiling!

32. Nog vandag sal die Assiriërs in Nob kamp opslaan, en daarvandaan sal hulle beduie in die rigting van die Sionsberg, die heuwel waarop Jerusalem lê.

33. Maar dan sal die Here ons God, die Almagtige, die takke van die bos, Assirië, met geweld afkap. Die hoë bome sal afgekap word, die grotes sal val.

34. Die Here sal die digte takke van die bos met 'n byl afkap; die Libanon sal val voor die magtige God.

Jesaja 10