19. Die bome wat in die bos, Assirië, oorbly, sal so min wees dat 'n klein seuntjie dit sal kan tel.
20. In dié tyd sal dié wat in Israel, in Jakob oorgebly het en ontkom het, nie meer hulle vertroue stel in Assirië deur wie hulle vertrap is nie, maar hulle sal net op die Here, die Heilige van Israel, vertrou.
21. Daar sal 'n oorblyfsel terugkom na die magtige God toe, die oorblyfsel van Jakob.
22. Al sou jou mense, Israel, so baie wees soos die sand van die see, net 'n oorblyfsel sal na die land toe terugkom.Maar die verdelging staan vas, die vergelding kom aan soos 'n vloed:
23. Die Here ons God, die Almagtige, het vas besluit om die hele land te verdelg.
24. Daarom, so sê die Here ons God, die Almagtige: My volk wat op Sion woon, moenie bang wees vir die Assiriërs nie, vir dié wat vir julle vertrap het en slawe gemaak het van julle, soos Egipte gedoen het.
25. My toorn teen julle sal nog net 'n kort rukkie duur, dan sal dit die Assiriërs uitroei.
26. Die Here die Almagtige sal hulle met 'n sweep slaan, soos vir Midian by die Orebrots; Hy sal sy stok oor die water uitsteek en die Assiriërs tref soos Hy met die Egiptenaars gedoen het.
27. In dié tyd sal Hy die las verwyder wat hulle op julle skouers gelê het, en ook hulle juk van julle nek af; die juk sal heeltemal van julle af afgeruk word.
28. Die Assiriërs oorval Aja; hulle trek deur Migron; in Mikmas bêre hulle hulle voorrade.
29. Hulle trek oor die pas en sê: “Ons wil vannag in Geba kamp opslaan.”Die inwoners van Rama bewe, dié van Gibea van Saul slaan op die vlug.