Jeremia 32:22-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

22. U het hierdie land vir u volk gegee, die land wat U met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning.

23. U volk het gekom en dit in besit geneem, maar hulle was ongehoorsaam. Hulle het nie u wet onderhou nie, hulle het nie gedoen wat U hulle beveel het om te doen nie. Daarom het U al hierdie rampe oor hulle laat kom.

24. Daar is beleëringswalle teen die stad opgegooi om dit te verower, en die stad is deur die swaard en hongersnood en pes oorgegee in die mag van die Galdeërs wat daarteen veg. Wat U gesê het, gebeur nou. U sien dit self.

25. En tog sê U, Here my God, vir my: ‘Gaan koop vir jou 'n stuk grond met silwer en sorg dat jy getuies het,’ en dít noudat die stad in die mag van die Galdeërs gegee is.”

26. Die woord van die Here het tot Jeremia gekom:

27. Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?

28. So sê die Here: Ek gee hierdie stad in die mag van die Galdeërs, in die mag van koning Nebukadnesar van Babel. Hy sal dit verower.

29. Die Galdeërs wat teen hierdie stad veg, sal dit aan die brand kom steek en dit afbrand, ook die huise waar die inwoners My getart het toe hulle vir Baäl wierook gebrand het op die dakke en waar hulle drankoffers vir ander gode uitgegiet het.

30. Die mense van Israel en Juda het van jongs af net gedoen wat verkeerd is in my oë. Die Israeliete het My getart met goed wat hulle self gemaak het, sê die Here.

31. Van die dag af dat hierdie stad gebou is, tot nou toe het dit my gloeiende toorn so laat ontvlam dat Ek die stad wil wegvee voor My.

32. Die mense van Israel en Juda het My getart met al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, hulle, hulle konings, hulle amptenare, hulle priesters, hulle profete, elkeen in Juda, al die inwoners van Jerusalem.

Jeremia 32