Jeremia 13:13-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Dan moet jy vir hulle sê: So sê die Here: Ek gaan al die inwoners van hierdie land dronk maak, ook die konings wat op die troon van Dawid sit en die priesters en die profete, ja, al die inwoners van Jerusalem.

14. Ek sal hulle teen mekaar verpletter, vaders en kinders saam, sê die Here. Ek sal niemand spaar of verskoon nie, sonder ontferming sal Ek hulle uitroei.

15. Luister, gee aandag! Moenie so hoogmoedig wees nie: die Here het gepraat!

16. Eer die Here julle God voordat dit donker word,voordat julle julle in die skemer vasloop teen die berge.Julle sal wag op lig, maar Hy sal duisternis bring,Hy sal dit stikdonker laat word.

17. Maar as julle nie luister nie, sal Ek in stilte huil oor julle hoogmoed, Ek sal huil en huil, trane stort omdat my kudde as ballinge weggevoer word.

18. Sê vir die koning en vir die koninginmoeder: Klim van die troon af, want julle sal nie meer julle sierlike krone dra nie.

19. Die stede in die Suidland is beleër, niemand kan hulle ontset nie; die hele Juda word in ballingskap weggevoer, hulle moet almal weg.

20. Kyk op, Jerusalem, kyk hoe kom hulle van die noorde af! Waar is die kudde wat aan jou toevertrou is, die kleinvee wat jou trots was?

21. Wat sal jy sê as Ek mense oor jou aanstel wat jy geleer het, as mense wat jy as bondgenote beskou het, oor jou regeer? Sal dit nie vir jou net so pynlik wees soos vir 'n vrou wat 'n kind in die wêreld bring nie?

22. Jy vra jou af: “Waarom het dit my oorgekom?”Jy word kaal uitgetrek en verkrag oor jou baie oortredings.

23. Kan 'n Kussiet sy vel verander of 'n luiperd sy vlekke? Sou julle kon doen wat goed is, julle wat so gewoond is aan die kwaad?

24. Ek sal julle verstrooi soos kaf wat verbywaai in die woestynwind.

25. Dit is jou lot, jou deel wat Ek vir jou afgemeet het, sê die Here, vir jou wat My vergeet het, wat op leuens vertrou het.

Jeremia 13