Handelinge 19:16-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

16. Die man met die bose gees spring toe onder hulle in en oorweldig hulle. Hy was te sterk vir hulle, sodat hulle kaal en stukkend geslaan uit daardie huis gevlug het.

17. Al die Jode en Grieke wat in Efese gewoon het, het daarvan te hore gekom. Vrees het hulle almal oorval, en die Naam van die Here Jesus is geprys.

18. Baie van die mense wat gelowig geword het, het ook gekom en al hulle towerpraktyke openlik bely en bekend gemaak.

19. Heelparty van die mense wat toorkunste beoefen het, het hulle boeke gebring en voor almal verbrand. Hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftig duisend silwermuntstukke werd was.

20. So het die woord van die Here sy krag getoon en al hoe verder versprei.

21. Na hierdie gebeurtenisse het Paulus besluit om deur Masedonië en Agaje te reis en na Jerusalem toe te gaan. “Nadat ek daar was,” het hy gesê, “moet ek Rome ook besoek.”

22. Hy het twee van sy helpers, Timoteus en Erastus, vooruit gestuur Masedonië toe, maar self nog 'n tyd lank in die provinsie Asië agtergebly.

23. Juis toe het daar 'n groot opskudding ontstaan oor die leer van die Here.

Handelinge 19