37. U het my besittings gefynkam. Wat het u gekry wat uit u huis kom? Sit dit hier voor ons familie neer sodat hulle as regters tussen ons twee kan optree.
38. “Dis nou twintig jaar dat ek by u was. U skaapooie en u bokooie het gereeld gelam, en ek het nie u skaapramme geslag nie.
39. Wat deur wilde diere verskeur is, het ek nie na u toe gebring nie, ek moes dit vervang. Wat oordag of in die nag gesteel is, het u van my geëis.
40. Bedags het die hitte my verrinneweer en snags die koue, ek kon nie slaap nie.
41. Dis nou twintig jaar dat ek in u huis is: veertien jaar het ek vir u gewerk vir u twee dogters en ses vir kleinvee uit u trop, en u het my betaling kort-kort verander.
42. As die God van my voorvaders, die God van Abraham, die Beskermer van Isak, nie by my was nie, sou u my met leë hande weggestuur het. Maar God het gesien hoe swaar ek gekry het en hoe hard ek gewerk het en Hy het verlede nag in my guns uitspraak gelewer.”