14. Vroeg die volgende môre het Abraham kos gevat en 'n velsak water en dit vir Hagar gegee. Hy het dit saam met die kind op haar rug gesit en haar weggestuur. Sy is toe weg en het in die Bersebawoestyn rondgeswerf.
15. Toe die water in die velsak opraak, het sy die kind onder 'n doringbos neergesit
16. en 'n entjie daarvandaan gaan sit, omtrent so ver as 'n mens met 'n pyl en boog kan skiet, want sy het gedink: ek wil nie sien as die kind doodgaan nie. Terwyl sy so daar sit, het sy begin huil.
17. God het die kind hoor huil, en die Engel van God het uit die hemel na Hagar geroep en vir haar gesê: “Wat is dit, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy lê, gehoor.
18. Staan op, tel die kind op en troos hom, want Ek sal hom 'n groot nasie laat word.”
19. Toe het God haar oë oopgemaak en sy het 'n put met water gesien. Sy het die velsak vol water gaan maak en vir die kind water gegee.
20. God was by die kind en hy het groot geword. Hy het in die woestyn gewoon en het handig geword met die pyl en boog.
21. Hy het in die Paranwoestyn gewoon, en sy ma het hom met 'n vrou uit Egipte laat trou.