Esegiël 8:4-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. Hier het ek die magtige verskyning van die God van Israel weer gesien, net soos die keer in die vallei.

5. Hy het vir my gesê: “Mens, kyk noord!”Ek het gekyk, en daar aan die noordekant van die poort by 'n altaar het daardie afgodsbeeld wat toorn veroorsaak, gestaan, by die ingang!

6. God het vir my gesê: “Mens, sien jy wat doen hulle? Sien jy die vreeslike afskuwelike dinge wat Israel doen, hier ver van my heiligdom af? Maar jy sal nog afskuweliker dinge sien.”

7. Toe bring Hy my by die poort in die voorhof van die tempel, en daar sien ek 'n gat in die muur.

8. Hy sê toe vir my: “Mens, breek af die muur!”Toe ek die muur begin afbreek, sien ek 'n poort.

9. God het vir my gesê: “Gaan in en kyk die gruwelike, afskuwelike dinge wat hulle hier doen!”

10. Ek het ingegaan en gekyk. Daar was afbeeldings van allerlei kruipende goed en diere, afskuwelike goed, en van allerlei afgode van Israel wat rondom teen die mure uitgekap is.

11. Voor hulle het sewentig van Israel se leiers gestaan, met Jaäsanja seun van Safan tussen hulle, elkeen met sy wierookbak in die hand, en 'n geurige wierookwolk het opgestyg.

12. God het vir my gesê: “Mens, sien jy wat doen die leiers van Israel in die donker, elkeen in die heiligdom van sy eie afgodsbeeld? Hulle dink: die Here sien ons nie, Hy is nie meer in die land nie.”

13. Toe sê die Here vir my: “Jy sal nog afskuweliker dinge sien wat hulle doen,”

14. en Hy bring my by die ingang van die poort noord van die huis van die Here. Daar het vrouens gesit en huil oor Tammus.

15. Die Here het vir my gesê: “Sien jy, mens? Maar jy sal nog afskuweliker dinge as hierdie sien.”

Esegiël 8