Esegiël 46:10-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Die regeerder moet by hulle wees; wanneer hulle inkom, moet hy inkom en wanneer hulle uitgaan, moet hy uitgaan.

11. “Op die feesdae en tydens die feestye moet die graanoffer sestien kilogram saam met 'n bul en 'n ram wees en dié saam met die lammers soveel as wat die persoon wil gee. Vir elke sestien kilogram moet daar ook vier liter olie gebring word.

12. “Wanneer die regeerder 'n vrywillige offer wil aanbied, 'n brandoffer of maaltydoffers as vrywillige offer aan die Here, moet die oospoort vir hom oopgemaak word, en dan moet hy die brandoffer of die maaltydoffers aanbied soos hy dit op die sabbatdag moet doen. Daarna moet hy uitgaan en moet die poort weer gesluit word.

13. “Daar moet elke dag 'n jaaroud ramlam sonder liggaamsgebrek vir die Here as brandoffer gebring word. Dit moet elke môre gedoen word.

14. Elke môre moet daar ook 'n graanoffer van drie kilogram meel gebring word met een en 'n derde liter olie om die meel mee klam te maak. Dit moet 'n vaste instelling wees.

15. Die lam en die graanoffer en die olie moet elke môre gebring word as 'n daaglikse brandoffer.”

16. So sê die Here my God: “Wanneer die regeerder 'n stuk van sy grond aan een van sy seuns gee, moet dit die seun s'n bly en word dit die familiebesit van die seun se nageslag.

Esegiël 46