5. Die Here het vir my gesê: “Mens, let op, kyk goed en luister goed na alles wat Ek vir jou sê oor al die voorskrifte en al die reëlings wat vir my huis geld. Let op na hoe iemand by die tempel mag inkom en hoe hy die heiligdom moet verlaat.
6. “Jy moet vir dié weerbarstige volk, vir Israel, sê: So sê die Here my God: Was al julle afskuwelike dade nie genoeg nie, Israel,
7. dat julle ook nog eerlose en onbesnede uitlanders in my heiligdom ingebring het om my huis te ontwy? Julle het vir My vet en bloed as voedseloffer aangebied en terselfdertyd die verbond met My verbreek deur al julle afskuwelike dade.
8. Julle het nie die dienswerk in my heiligdom gedoen nie, julle het die uitlanders dit laat doen in julle plek.”
9. So sê die Here my God: “Geen eerlose, onbesnede uitlander mag in my heiligdom kom nie, nie een van al die uitlanders wat tussen die Israeliete woon nie.
10. “Net die Leviete kon dit doen. Maar die Leviete het van My vervreem geraak toe Israel My verlaat het en hulle hulle afgode gedien het. Die Leviete moet die straf vir hulle sonde dra.
11. Hulle mag diens doen in my heiligdom as wagte by die tempelpoorte en as tempelbediendes, hulle mag die diere vir die brandoffer en die ander offers slag vir die volk, en die nodige vir die volk doen,
12. maar hulle het ook die nodige vir die volk gedoen in die diens van afgode, hulle het Israel in sonde laat verval, en daarom steek Ek my hand teen hulle uit en laat Ek hulle die straf vir hulle sonde dra,” sê die Here my God.
13. “Hulle mag nie in my teenwoordigheid kom om priesters te wees in my diens nie, hulle mag nie raak aan die dinge wat aan My gewy is of aan die gewyde offergawes nie. Hulle moet die straf dra vir hulle skandelike afskuwelike optrede.
14. Ek maak hulle die tempelbediendes wat moet sorg vir al die werk aan die tempel, alles wat daar aan die tempel gedoen moet word.
15. “Net die Levitiese priesters uit die geslag van Sadok het die dienswerk in my heiligdom onderhou toe die Israeliete My verlaat het. Hierdie priesters mag in my teenwoordigheid kom en die dienswerk vir My verrig, hulle mag in my diens staan en vir My vet en bloed as offer aanbied,” sê die Here my God.