Esegiël 36:29-38 Afrikaans 1983 (AFR83)

29. Ek sal julle bevry van alles waarmee julle julle verontreinig het, Ek sal die graan aanspreek en sorg dat dit baie is; Ek sal nie weer hongersnood oor julle bring nie.

30. Ek sal sorg dat daar baie vrugte aan die bome is en groot oeste op die lande sodat julle nie weer die vernedering onder die nasies beleef dat julle hongersnood het nie.

31. Dan sal julle terugdink aan julle bose optrede en julle gedrag wat nie goed was nie, en julle sal 'n afsku hê van julleself oor julle sonde en julle afskuwelike dade.

32. Julle moet weet, sê die Here my God, dat Ek dié dinge nie ter wille van julle doen nie. Al wat julle pas, Israel, is skaamte en skande oor julle optrede.”

33. So sê die Here my God: “Die dag as Ek julle van julle sonde reinig, sal Ek sorg dat julle stede weer bewoon word en sal julle puinhope herbou word.

34. Die kaalgestroopte land sal bewerk word in plaas daarvan dat dit kaal lê voor die oë van almal wat daar verbygaan.

35. Hulle sal sê: ‘Dié land was verlate en nou is hy soos die tuin van Eden; die stede het in puin gelê, hulle was verlate en verwoes, en nou is hulle vestingstede met inwoners.’

36. Die nasies wat nog rondom julle oor is, sal besef dat dit Ek, die Here, is wat die verwoeste stede herbou het en die kaalgestroopte land weer beplant het. Ek, die Here, sê dit en Ek sal dit doen.”

37. So sê die Here my God: “Ek sal ook nog dít vir Israel doen in antwoord op hulle gebede: Ek sal hulle soos kleinvee laat vermeerder.

38. Die stede wat nou in puin lê, sal net so vol mense wees as wat Jerusalem vol kleinvee is in die feestye, kleinvee vir die offers. Dan sal Israel besef dat Ek die Here is.”

Esegiël 36