Esegiël 22:4-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

4. jy staan skuldig aan die bloed wat jy vergiet het, jy is onrein deur jou afgode wat jy gemaak het. Jy het self jou oordeelsdag nader gebring en by jou einde uitgekom. Ek maak jou 'n spot onder die nasies; al die lande sal vir jou lag.

5. Dié wat naby jou is en dié wat ver van jou af is, sal vir jou lag. Jy gaan so erg te kere dat jou naam vuil geword het.

6. “Elke regeerder van Israel het sy mag misbruik om bloed te vergiet in jou.

7. Vader en moeder is in jou verag, die vreemdeling is verdruk in jou, die weeskind en die weduwee is mishandel in jou.

8. Wat aan My gewy is, het jy geminag, my sabbatte het jy ontheilig.

9. Daar is mense in jou wat ander belaster om hulle dood te veroorsaak, wat aan die offermaaltye op die berge deelneem en wat afstootlike dinge in jou doen.

10. Daar is mense in jou wat by hulle pa's se vrouens slaap en wat vrouens onteer selfs terwyl hulle menstrueer en onrein is.

11. Die een begaan afskuwelike dinge met die ander se vrou, die een pleeg afstootlike dade met sy skoondogter en verontreinig haar, die een onteer sy halwe suster, sy pa se dogter.

12. Hulle laat hulle in jou omkoop om moord te pleeg, hulle vat rente en woekerwins, hulle pleeg bedrog en doen ander te kort: hulle maak of Ek nie daar is nie,” sê die Here my God.

Esegiël 22