20. Jy het jou seuns en jou dogters wat jy vir My in die wêreld gebring het, gevat en hulle vir die afgode as offermaaltye aangebied. Was jou ontrou nie genoeg nie,
21. dat jy ook nog my kinders moes slag en hulle vir die afgode moes laat verbrand?
22. Met al dié afskuwelike dade van jou, met jou ontrou het jy nie onthou van jou jeug toe jy kaal en sonder klere in jou bloed gelê en spartel het nie.
23. “Ellende, ellende wag vir jou,” sê die Here my God. “Nadat jy so sleg geword het,
24. het jy boonop op elke oop plek vir jou 'n offerbult gebou, vir jou 'n hoogte ingerig.
25. By elke kruispad het jy vir jou 'n hoogte ingerig en van jou skoonheid iets afskuweliks gemaak. Jy het gretig gelê en wag vir elkeen wat verbykom; jy het aanmekaar bly hoereer.
26. Jy het gehoereer met jou goedbedeelde bure, die Egiptenaars, jy het aanmekaar bly hoereer en My bly uittart.
27. Ek het my hand teen jou uitgesteek en jou regte ingekort en jou oorgelaat aan die willekeur van jou vyande, die Filistyne. Selfs hulle het hulle geskaam oor jou skandelike gedrag.