19. Ek het jou gevoed met fynmeel, olie en heuning, maar jy het die kos wat Ek vir jou gegee het, voor hulle neergesit as offers met 'n aangename geur. Ja, dit is wat gebeur het, sê die Here my God.
20. Jy het jou seuns en jou dogters wat jy vir My in die wêreld gebring het, gevat en hulle vir die afgode as offermaaltye aangebied. Was jou ontrou nie genoeg nie,
21. dat jy ook nog my kinders moes slag en hulle vir die afgode moes laat verbrand?
22. Met al dié afskuwelike dade van jou, met jou ontrou het jy nie onthou van jou jeug toe jy kaal en sonder klere in jou bloed gelê en spartel het nie.
23. “Ellende, ellende wag vir jou,” sê die Here my God. “Nadat jy so sleg geword het,
24. het jy boonop op elke oop plek vir jou 'n offerbult gebou, vir jou 'n hoogte ingerig.
25. By elke kruispad het jy vir jou 'n hoogte ingerig en van jou skoonheid iets afskuweliks gemaak. Jy het gretig gelê en wag vir elkeen wat verbykom; jy het aanmekaar bly hoereer.
26. Jy het gehoereer met jou goedbedeelde bure, die Egiptenaars, jy het aanmekaar bly hoereer en My bly uittart.
27. Ek het my hand teen jou uitgesteek en jou regte ingekort en jou oorgelaat aan die willekeur van jou vyande, die Filistyne. Selfs hulle het hulle geskaam oor jou skandelike gedrag.
28. Toe het jy met die Assiriërs gehoereer, want jy was nog nie bevredig nie; jy het met hulle gehoereer, maar ook toe is jy nie bevredig nie.
29. Jy het aanmekaar bly hoereer met die Galdese handelaars, maar ook dit het jou lus nie bevredig nie.
30. Jou koors was hoog toe jy dit alles gedoen het,” sê die Here my God. “Jy het jou gedra soos 'n skaamtelose hoer.
31. Jy het by elke kruispad vir jou 'n offerbult gebou, op elke oop plek 'n hoogte. Maar jy was nie eens soos 'n gewone prostituut nie, jy het jou neus opgetrek vir betaling.
32. Jy is soos 'n immorele vrou wat ander mans ontvang en nie haar eie man nie.
33. Al die prostitute kry betaling, maar jy betaal jou minnaars, van oral af lok jy hulle met geskenke na jou toe om met jou te hoereer.
34. Jy het met jou hoerery juis die teenoorgestelde gedoen van wat ander vrouens doen: niemand het agter jou aangeloop nie; jy het betaal, jy is nie betaal nie. Jy is net die teenoorgestelde.
35. “Daarom, hoer, hoor die woord van die Here!”
36. So sê die Here my God: “Jy het jou eerloos gedra, jou sonder skaamte ontbloot om met jou minnaars te hoereer, met al jou afskuwelike afgode. Jy het vir hulle die bloed van jou kinders gegee.
37. Daarom gaan Ek al jou minnaars bymekaarbring, almal van wie jy gehou het, almal vir wie jy lief was en ook almal van wie jy nie gehou het nie. Ek gaan hulle van oral af rondom jou bymekaarbring en dan gaan Ek jou ontbloot voor hulle sodat hulle na jou kan kyk terwyl jy heeltemal kaal is.
38. Ek gaan jou straf soos vrouens gestraf moet word wat owerspel en moord gepleeg het. Ek laat jou die moorde voel, die gramskap, die woede.