Esegiël 14:2-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

2. Die woord van die Here het toe tot my gekom:

3. “Mens, hierdie manne heg waarde aan afgode. Hulle is so in sonde verval dat hulle net ag gee op hulle afgode. Moet Ek My deur hulle laat raadpleeg?

4. Praat met hulle, sê vir hulle: So sê die Here my God: Wanneer 'n Israeliet waarde heg aan afgode en so in sonde verval is dat hy net ag gee op sy afgode, en hy kom na 'n profeet toe, sal Ek, die Here, met hom praat soos dit by sy afgodery pas.

5. Ek sal Israel wat My ter wille van al hulle afgode verlaat het, my harde hand laat voel.

6. “Sê vir Israel: So sê die Here my God: Bekeer julle! Laat staan julle afgode! Hou op met al julle afskuwelike dade!

7. “Wanneer 'n Israeliet of 'n vreemdeling wat onder Israel woon, van My afvallig word en aan afgode waarde heg en so in sonde verval is dat hy net ag gee op sy afgode, en hy kom na 'n profeet toe om My te raadpleeg, sal Ek, die Here, op my eie wyse met hom praat.

8. Ek sal so 'n man se teenstander wees en van hom 'n voorbeeld, 'n spot maak, hom van my volk afsny. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.

9. En as 'n profeet hom dan laat verlei om iets te sê, is dit Ek die Here wat hom verlei het, maar tog sal Ek my hand teen hom uitsteek en hom tussen my volk Israel uit verdelg.

10. Hulle sal die straf op hulle sonde dra: die man wat My raadpleeg en die profeet het ewe veel skuld.

11. Dan sal Israel nie weer van My af wegdwaal en hulle nie weer verontreinig met al hulle opstandige dade nie. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees,” sê die Here my God.

12. Die woord van die Here het tot my gekom:

13. “Mens, wanneer 'n land teen My sondig en heeltemal troueloos word, en Ek steek my hand teen hom uit en vat sy kos weg en bring hongersnood in hom en Ek roei mens en dier uit hom uit,

14. sou selfs daardie drie manne van ouds, Noag, Daniël en Job wat volgens my wil geleef het, net hulleself in die lewe kon hou, sê die Here my God.

Esegiël 14