10. “Hulle het my volk verlei, hulle het gesê: ‘Dit sal goed gaan’ toe dit nie sou goed gaan nie, en toe die volk 'n muur bou, het daardie profete dit netjies afgewit.
11. “Sê vir dié wat die muur afgewit het wat gaan val: Daar kom stortreëns, Ek laat haelstene val, stormwinde sal losbreek.
12. Die muur gaan val, en die mense sal vir julle vra: ‘Waar is die witsel waarmee julle dit afgewit het?’
13. “Daarom,” so sê die Here my God, “laat Ek stormwinde losbreek in my gramskap, laat Ek stortreëns in my toorn, haelstene in my gramskap kom om alles te vernietig.
14. Ek breek die muur af wat julle so netjies afgewit het, Ek maak hom gelyk met die grond. Sy fondamente sal sigbaar word, hy sal val en julle sal in sy puin aan julle einde kom. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.