12. Moses en Aäron het van die farao af weggegaan en Moses het die Here aangeroep oor die paddas wat Hy oor die farao gebring het.
13. Die Here het gedoen wat Moses gevra het, en die paddas het gevrek, in die huise, in die binneplase en op die lande.
14. Die mense het dit hope-hope bymekaargehark, en die land het daarvan gestink.
15. Maar toe die farao sien dat daar verligting gekom het, het hy weer onversetlik geword. Hy het nie aan Moses-hulle se versoek gehoor gegee nie, soos die Here vooraf gesê het.
16. Daarna het die Here vir Moses gesê: “Sê vir Aäron: Swaai jou kierie en slaan op die grond dat daar muggies oor die hele Egipte kom.”
17. Hulle twee het toe so gemaak. Aäron het die kierie geswaai en op die grond geslaan, en mens en dier was oortrek van die muggies. In die hele Egipte het elke krieseltjie stof 'n muggie geword.
18. Die towenaars het dieselfde probeer doen met hulle towerkunste, dié keer om muggies voort te bring, maar hulle kon nie.Mens en dier was oortrek van die muggies.
19. Toe sê die towenaars vir die farao: “Dit is die vinger van God!”Maar die farao het koppig gebly. Hy het nie aan Moses-hulle se versoek gehoor gegee nie, net soos die Here vooraf gesê het.
20. Daarna het die Here vir Moses gesê: “Staan môreoggend vroeg op en gaan wag vir die farao by die water. Hy sal juis op pad wees soontoe. Sê vir hom: So sê die Here: Laat my volk gaan om My te dien,
21. want as jy my volk nie laat gaan nie, sal Ek steekvlieë op jou loslaat, op jou amptenare, op jou mense en in jou huise. In die huise van die Egiptenaars en ook op hulle lande sal dit swerm van die steekvlieë.
22. Maar dié dag sal Ek 'n uitsondering maak van die Gosenstreek waar my volk woon. Dáár sal nie 'n enkele steekvlieg wees nie, dat jy kan besef dat Ek, die Here, in die land is.
23. Ek neem mý volk in beskerming, joune nie. Net môre sal hierdie wonder gebeur.”
24. Die Here het dit toe gedoen. Groot swerms steekvlieë het in die paleis van die farao in gekom, in die huise van sy amptenare en oor die hele Egipte. Die land is daardeur lam gelê.
25. Toe roep die farao vir Moses en Aäron en sê: “Julle kan vir julle God gaan offer, maar hier in dié land!”