10. En die farao antwoord: “Doen dit môre.”Toe sê Moses: “Goed, dan sal u besef dat daar geen god is soos ons God, die Here, nie.
11. Die paddas sal van u af weggevat word, van u huise, u amptenare en u mense af; net in die Nyl sal daar nog paddas oorbly.”
12. Moses en Aäron het van die farao af weggegaan en Moses het die Here aangeroep oor die paddas wat Hy oor die farao gebring het.
13. Die Here het gedoen wat Moses gevra het, en die paddas het gevrek, in die huise, in die binneplase en op die lande.
14. Die mense het dit hope-hope bymekaargehark, en die land het daarvan gestink.
15. Maar toe die farao sien dat daar verligting gekom het, het hy weer onversetlik geword. Hy het nie aan Moses-hulle se versoek gehoor gegee nie, soos die Here vooraf gesê het.
16. Daarna het die Here vir Moses gesê: “Sê vir Aäron: Swaai jou kierie en slaan op die grond dat daar muggies oor die hele Egipte kom.”
17. Hulle twee het toe so gemaak. Aäron het die kierie geswaai en op die grond geslaan, en mens en dier was oortrek van die muggies. In die hele Egipte het elke krieseltjie stof 'n muggie geword.
18. Die towenaars het dieselfde probeer doen met hulle towerkunste, dié keer om muggies voort te bring, maar hulle kon nie.Mens en dier was oortrek van die muggies.
19. Toe sê die towenaars vir die farao: “Dit is die vinger van God!”Maar die farao het koppig gebly. Hy het nie aan Moses-hulle se versoek gehoor gegee nie, net soos die Here vooraf gesê het.
20. Daarna het die Here vir Moses gesê: “Staan môreoggend vroeg op en gaan wag vir die farao by die water. Hy sal juis op pad wees soontoe. Sê vir hom: So sê die Here: Laat my volk gaan om My te dien,