4. Die Here sê toe vir Moses: “Steek jou hand uit en gryp hom aan sy stert.”Moses steek sy hand uit en gryp hom, en skielik word dit weer 'n kierie in sy hand.
5. Toe sê die Here: “Op grond hiervan sal hulle glo dat die Here die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, aan jou verskyn het.
6. “Steek nou jou hand in die vou van jou klere!”Hy steek toe sy hand in en toe hy dit uittrek, was dit melaats, so wit soos sneeu.
7. Hierna sê die Here: “Steek nou weer jou hand in jou klere.”Hy steek toe weer sy hand in en toe hy dit uittrek, was dit gesond.
8. Toe sê die Here: “As hulle jou na die eerste wonderwerk nie geglo het nie en hulle nie daaraan gesteur het nie, behoort hulle jou na hierdie een wel te glo.
9. “As hulle jou ná hierdie twee wonderwerke nog nie glo nie en nie na jou luister nie, moet jy van die Nyl se water vat en op die grond uitgooi. Die water wat jy uit die Nyl gevat het, sal dan op die grond bloed word.”
10. Toe sê Moses vir die Here: “Ag, Here, ek kan nie goed praat nie; ek kon nie vroeër nie en ek kan ook nie nou, hier waar U met my praat nie. Ek praat swaar, en my tong sukkel.”
11. Daarna sê die Here vir hom: “Wie het aan die mens 'n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie?
12. Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.”
13. Maar Moses antwoord: “Asseblief tog, Here, stuur liewer iemand anders.”
14. Toe word die Here kwaad vir Moses en sê: “Aäron die Leviet is mos jou broer, en Ek weet hy kan sy woord goed doen. Hy is al op pad om jou te ontmoet en hy sal bly wees om jou weer te sien.
15. Praat met hom en sê vir hom wat om te sê. Ek sal by jou wees as jy praat en by hom as hy praat en Ek sal julle leer wat om te doen.
16. Wanneer hy namens jou met die volk praat, is hy jou segsman en jy die een wat hom sy opdragte gee.
17. Hou nou die kierie waarmee jy die tekens moet gaan doen, by jou.”
18. Daarna het Moses na sy skoonpa Jetro toe teruggegaan en vir hom gesê: “Ek wil graag teruggaan na my mense toe in Egipte om te sien hoe dit met hulle gaan.”Jetro antwoord hom: “Gaan gerus.”
19. In Midian het die Here aan Moses gesê: “Gaan nou terug na Egipte toe, want al die mense wat jou wou doodmaak, is al dood.”
20. Toe is Moses met sy vrou en kinders na Egipte toe. Hy het sy vrou en kinders op 'n donkie laat ry en die kierie wat God hom gegee het, saamgevat.
21. Die Here het vir Moses gesê: “Wanneer jy teruggaan Egipte toe, moet jy sorg dat jy al die wonderwerke waartoe Ek jou in staat gestel het, voor die farao doen. Maar Ek sal hom hardkoppig maak, en hy sal die volk nie laat gaan nie.
22. Dan moet jy vir die farao sê: So sê die Here: Israel is my oudste seun.
23. Ek het vir jou gesê: Laat my seun gaan sodat hy My kan aanbid. Maar jy het geweier om hom te laat gaan, en nou gaan Ek jou oudste seun doodmaak.”
24. Waar Moses-hulle langs die pad oornag het, het die Here by hom gekom en wou Hy vir Moses doodmaak.