Eksodus 38:13-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Die voorkant, die oostekant, was vyf en twintig meter breed en

14. die gordyne was elkeen sewe en 'n half meter breed met drie style en drie voetstukke.

15. Aan weerskante van die deur van die voorhof was die gordyne sewe en 'n half meter breed, met drie style en drie voetstukke.

16. Al die gordyne rondom die voorhof was van goed geweefde linne.

17. Die voetstukke vir die style was van brons, hulle kramme en gordynstokke van silwer. Hulle kopstukke was met silwer oorgetrek. Al die style van die voorhof het silwergordynstokke gehad.

18. Die afskorting in die ingang van die voorhof was tien meter breed en net soos die gordyne van die voorhof was dit twee en 'n half meter hoog. Dit was van blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne, netjiese borduurwerk.

19. Daar was ook nog vier style met bronsvoetstukke, en silwerkramme. Die style se kopstukke was met silwer oorgetrek, en die gordynstokke was van silwer.

20. Al die penne rondom die tabernakel en rondom die voorhof was van brons.

21. Hier volg die hoeveelhede van die materiaal wat gebruik is om die tabernakel waarin die getuienis was, op te rig. Dit is in opdrag van Moses bereken deur die Leviete wat gewerk het onder leiding van Itamar seun van die priester Aäron.

22. Onder leiding van Besaleël seun van Uri, seun van Gur uit die stam Juda, is alles gedoen wat die Here vir Moses beveel het.

23. Oholiab, seun van Agisamak uit die stam Dan, het hom gehelp. Oholiab was 'n vakman en 'n ontwerper en 'n wewer van blou, pers en bloedrooi wolstof en van linne.

Eksodus 38