Eksodus 31:13-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. “Jy moet vir die Israeliete sê: Onderhou my sabbatte. Dit is van geslag tot geslag 'n teken tussen My en julle sodat julle kan besef dat Ek, die Here, julle vir My geheilig het.

14. Onderhou dus die sabbat. Dit moet vir julle 'n gewyde dag wees. Hy wat dit ontwy, moet doodgemaak word. Wie op dié dag werk, moet van sy volk afgesny word.

15. Ses dae kan daar gewerk word, maar die sewende dag is 'n rusdag, 'n sabbat wat gewy is aan My, die Here. Elkeen wat op die sabbatdag werk, moet doodgemaak word.

16. “Die Israeliete moet die sabbat onderhou. Ook op hulle nageslag lê die verbond 'n blywende verpligting om die sabbat te onderhou.

17. Dit sal vir altyd 'n teken wees tussen My en die Israeliete. In ses dae het Ek, die Here, die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Ek nie gewerk nie, maar gerus.”

18. Nadat die Here op Sinaiberg met Moses gepraat het, het Hy die twee plat klippe met die getuienis daarop aan Moses gegee. Dit is die plat klippe waarop God met sy vinger geskryf het.

Eksodus 31