Eksodus 30:11-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Die Here het verder vir Moses gesê:

12. “Wanneer jy die Israeliete tel, moet elkeen wanneer hy getel word, 'n versoeningsoffer vir sy lewe aan My, die Here, offer. Dan sal hy nie deur 'n ramp getref word wanneer hy getel word nie.

13. “Elkeen wat kom om getel te word, moet met silwer betaal, ses gram volgens die standaardgewig van die heiligdom. Die ses gram is 'n offergawe vir My, die Here.

14. Elkeen van twintig jaar en ouer wat kom om getel te word, moet die offergawe vir My bring.

15. “Die ryke moet nie meer en die arme nie minder as die offergawe van ses gram silwer vir My bring as versoeningsoffer vir sy lewe nie.

16. Jy moet die versoeningsgeld by die Israeliete insamel en dit aan die priesters gee vir die diens in die tent van ontmoeting. Die versoeningsgeld sal My, die Here, laat dink aan die Israeliete en sal hulle lewens loskoop.”

17. Die Here het vir Moses gesê:

18. “Jy moet 'n bronswaskom met 'n bronsvoetstuk maak om in te was. Sit dit tussen die tent van ontmoeting en die altaar neer en gooi water daarin.

19. Aäron en sy seuns moet hulle hande en voete daarin was.

20. Voordat hulle in die tent van ontmoeting ingaan, moet hulle hulle met die water was sodat hulle nie sterf nie. Voordat hulle na die altaar toe kom vir hulle diens om 'n vuuroffer vir My, die Here, aan die brand te steek,

21. moet hulle hulle hande en hulle voete was sodat hulle nie sterf nie. Dit is 'n blywende voorskrif vir hulle en vir hulle nageslagte.”

22. Die Here het vir Moses gesê:

Eksodus 30