Eksodus 29:30-41 Afrikaans 1983 (AFR83)

30. Aäron se seun wat hom as priester opvolg en in die tent van ontmoeting ingaan om in die heiligdom diens te doen, moet die klere sewe dae aanhou.

31. “Vat die ram wat vir die wyding gebruik is, en kook die res van sy vleis in 'n plek wat gewy is

32. sodat Aäron en sy seuns die vleis by die deur van die tent van ontmoeting kan eet saam met die brood in die mandjie.

33. Hulle moet die offer eet waarmee vir hulle versoening gedoen is by hulle wyding en reiniging. 'n Persoon wat nie priester is nie, mag nie daarvan eet nie, want dit is gewyd.

34. As daar die volgende môre gewyde vleis en brood oor is, moet jy dit verbrand. Dit mag dan nie meer geëet word nie, want dit is gewyd.

35. Jy moet met Aäron en sy seuns doen presies soos Ek jou beveel het. Jy moet hulle sewe dae lank as priesters wy.

36. Elke dag moet jy 'n bul as sondeoffer offer. Jy moet die altaar deur jou versoeningsoffer reinig en dit salf om dit te wy.

37. Sewe dae lank moet jy 'n versoeningsoffer op die altaar bring en dit wy. Dan sal die altaar besonder gewyd wees en alles wat daaraan raak, sal ook gewyd wees.”

38. “Jy moet die volgende op die altaar offer: elke dag twee jaaroud lammers,

39. een in die môre en een in die aand.

40. Saam met die eerste lam moet jy een en 'n half kilogram fynmeel offer, gemeng met een liter suiwer olie en een liter wyn.

41. Die tweede lam moet jy teen die aand offer met dieselfde offer van meel, olie en wyn daarby as in die oggend. Dit moet 'n vuuroffer wees wat Ek met graagte aanvaar.

Eksodus 29