Eksodus 28:5-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Die vakmanne moet gouddraad en blou, pers en bloedrooi wolstof en linne gebruik

6. om die skouerkleed te maak. Die blou, pers en bloedrooi wolstof en die goed geweefde linne moet met die gouddraad geborduur word.

7. “Die skouerkleed moet aan die punte twee bande hê om dit oor die skouer aanmekaar vas te maak.

8. Dit moet ook 'n gordel hê van dieselfde gehalte en daarvoor moet ook gouddraad, blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne gebruik word.

9. “Vat twee oniksstene en graveer die name van die seuns van Israel

10. volgens ouderdom daarop, ses op die een en ses op die ander.

11. Jy moet 'n bekwame vakman wat graveerwerk op seëlringe kan doen, aansê om die name van die seuns van Israel op die twee stene te graveer, en monteer dit in goud.

12. “Werk die twee stene vas op die skouerbande van die skouerkleed dat die stene kan herinner aan die stamme van Israel. So sal Aäron hulle name op sy twee skouers dra voor My, die Here, om My aan hulle te herinner.

13. Jy moet goue monterings maak

14. en van suiwer goud ook twee kettinkies, gedraai soos tou. Sit hierdie gedraaide kettinkies aan die monterings vas.

15. “Maak 'n borssak wat deur die priester gebruik word wanneer hy oor regsake moet beslis. Dit moet netjies geborduur wees soos die skouerkleed, gemaak van gouddraad, blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne.

16. Die borssak moet dubbel gevou wees, vyf en twintig sentimeter in die vierkant.

Eksodus 28