29. Wanneer Aäron in die heiligdom ingaan, moet hy die name van die stamme van Israel op die borssak op sy bors dra om My, die Here, altyd aan hulle te herinner.
30. Binne-in die borssak wat deur die priester gebruik word wanneer hy oor regsake moet beslis, moet jy die urim en tummim sit. Hulle moet op Aäron se bors wees as hy ingaan na My toe. Aäron moet gedurig die borssak vir regsake met die name van die stamme van Israel daarop, op sy bors dra as hy voor My, die Here, verskyn.
31. “Jy moet die mantel wat saam met die skouerkleed gedra word, as een stuk blou wolstof weef.
32. In sy middel moet daar 'n opening vir die kop wees, die gat moet omgeboor wees, sterk soos 'n pantserhemp, dat dit nie kan skeur nie.
33. Rondom die some moet jy granaatjies van blou, pers en bloedrooi wolstof maak met goue klokkies tussenin,
34. afwisselend 'n goue klokkie en 'n granaatjie rondom die hele soom van die mantel.
35. Aäron moet dit dra as hy diens doen. Wanneer hy in die heiligdom na My toe ingaan en as hy daarvandaan uitkom, sal die geluid van die klokkies gehoor word, en dan sal hy nie sterf nie.
36. “Jy moet 'n blom van suiwer goud maak en daarop, soos op 'n seëlring, graveer: Aan Die Here Gewy.
37. “Jy moet dit met 'n blou toutjie aan die tulband vasmaak. Dit moet aan die voorkant van die tulband wees.
38. Dit moet op Aäron se voorkop wees as teken dat hy aanspreeklik is vir elke ontwyding van die offers deur Israel. Die blom moet gedurig op Aäron se voorkop wees as teken dat Ek, die Here, die Israeliete goedgesind is.
39. “Jy moet vir Aäron die priesterklere van linne weef en jy moet vir hom 'n tulband van linne en 'n geborduurde serp maak.
40. Vir elkeen van sy seuns moet jy 'n stel priesterklere en 'n serp maak. Jy moet vir hulle kopdoeke maak wat waardig en mooi is.