Eksodus 28:20-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. en die vierde uit 'n chrisoliet, 'n oniks en 'n opaal. Die hele montering moet van goud wees.

21. Daar moet twaalf stene wees, een vir elke naam van die stamme van Israel. Die name van al twaalf stamme moet daarop gegraveer word soos op 'n seëlring.

22. Jy moet van suiwer goud vir die borssak ook kettinkies maak, gedraai soos tou.

23. “Jy moet ook nog twee goue ringe maak vir die borssak en dit vassit aan die twee boonste hoeke daarvan.

24. Maak die twee goue kettinkies vas aan die twee ringe wat aan die hoeke van die borssak is.

25. Maak dan die ander punte van die twee kettinkies vas aan die twee monterings en werk dit vas aan die voorkant van die skouerbande van die skouerkleed.

26. Jy moet nog twee goue ringe maak en dit vaswerk aan die onderste hoeke van die borssak, aan die agterkant, die kant waar dit teen die skouerkleed is.

27. Dan moet jy twee ander goue ringe maak en dit aan die twee skouerbande van die skouerkleed vassit, laag af aan die voorkant, aan die naat net bo die gordel.

28. Die ringe van die borssak moet met 'n blou toutjie aan die ringe van die skouerkleed vasgemaak word, net bokant die gordel van die skouerkleed, sodat die borssak nie van die skouerkleed af wegskuif nie.

29. Wanneer Aäron in die heiligdom ingaan, moet hy die name van die stamme van Israel op die borssak op sy bors dra om My, die Here, altyd aan hulle te herinner.

30. Binne-in die borssak wat deur die priester gebruik word wanneer hy oor regsake moet beslis, moet jy die urim en tummim sit. Hulle moet op Aäron se bors wees as hy ingaan na My toe. Aäron moet gedurig die borssak vir regsake met die name van die stamme van Israel daarop, op sy bors dra as hy voor My, die Here, verskyn.

31. “Jy moet die mantel wat saam met die skouerkleed gedra word, as een stuk blou wolstof weef.

32. In sy middel moet daar 'n opening vir die kop wees, die gat moet omgeboor wees, sterk soos 'n pantserhemp, dat dit nie kan skeur nie.

33. Rondom die some moet jy granaatjies van blou, pers en bloedrooi wolstof maak met goue klokkies tussenin,

34. afwisselend 'n goue klokkie en 'n granaatjie rondom die hele soom van die mantel.

35. Aäron moet dit dra as hy diens doen. Wanneer hy in die heiligdom na My toe ingaan en as hy daarvandaan uitkom, sal die geluid van die klokkies gehoor word, en dan sal hy nie sterf nie.

36. “Jy moet 'n blom van suiwer goud maak en daarop, soos op 'n seëlring, graveer: Aan Die Here Gewy.

Eksodus 28