4. Sy suster het op 'n afstand gaan staan om te sien wat met hom gebeur.
5. 'n Dogter van die farao het afgegaan Nyl toe om te swem, en die jongmeisies wat haar vergesel, het aan die kant van die rivier geloop. Toe sy die mandjie tussen die riete sien, stuur sy haar diensmeisie om dit te gaan haal.
6. Met die oopmaak sien sy dit is 'n seuntjie en hy huil. Toe kry sy hom jammer en dink: dit is seker een van die Hebreeuse seuntjies.
7. Sy suster kom sê toe vir die farao se dogter: “Mag ek vir u 'n vrou gaan roep, 'n Hebreeuse vrou met 'n pasgebore baba, dat sy die seuntjie vir u kan laat drink?”
8. Die dogter van die farao het haar geantwoord: “Ja, goed!”Die meisie het toe die seuntjie se ma gaan roep.
9. Toe beveel die farao se dogter die ma: “Neem hierdie seuntjie en laat hom vir my drink. Ek sal jou daarvoor betaal.”Die vrou het die seuntjie geneem en vir hom gesorg.
10. Toe hy oud genoeg was, het sy hom na die dogter van die farao toe gebring, wat hom as haar eie seun aangeneem het. Sy het hom Moses genoem, “want,” het sy gesê, “ek het hom mos uit die water gehaal.”
11. Toe Moses al 'n volwasse man was, het hy op 'n keer na sy eie mense toe gegaan en gesien dat hulle dwangarbeid verrig. Hy sien toe hoe een van sy eie mense, 'n Hebreër, deur 'n Egiptenaar geslaan word.
12. Nadat Moses rondgekyk het en niemand gewaar het nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan en hom onder sand toegekrap.
13. Die volgende dag gaan hy weer, en tot sy verbasing was daar twee Hebreeuse manne aan die baklei. “Waarom slaan jy aan jou broer?” vra hy vir die een wat die rusie begin het.