18. en toe hulle dit met 'n maatemmer afmeet, het dié met baie nie te veel nie, en dié met 'n bietjie nie te min gehad nie. Hulle het volgens elkeen se behoefte bymekaargemaak.
19. Moses het toe vir hulle gesê: “Niemand mag iets daarvan laat oorskiet tot môreoggend nie.”
20. Maar hulle het nie vir Moses geluister nie. Party het daarvan tot die volgende oggend laat oorstaan, maar daar het miet in gekom en dit het gestink. Moses was woedend oor wat hulle gedoen het.
21. Hulle het dit vroeg elke oggend bymekaargemaak, volgens elkeen se behoefte, maar net as die son begin bak, het dit weggesmelt.
22. Op die sesde dag het hulle 'n dubbele porsie opgetel, vier liter vir elkeen. Toe al die leiers van die volk dit vir Moses kom vertel,
23. sê hy vir hulle: “Dit is soos die Here gesê het: Môre is 'n rusdag, 'n gewyde sabbat van die Here. Maak alles gaar, bak wat julle wil bak, en kook wat julle wil kook, en wat oorbly nadat julle geëet het, moet julle wegsit en bewaar vir môre.”
24. Hulle het dit weggesit tot die volgende oggend soos Moses beveel het, en dit het nie sleg geword of miet gekry nie.