Eksodus 14:19-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

19. Die Engel van God wat altyd voor die Israeliete uit beweeg het terwyl hulle getrek het, het nou agter hulle plek ingeneem. Ook die wolkkolom wat voor hulle was, het agter hulle ingeskuif,

20. tussen die Egiptenaars en die Israeliete. Aan die Egiptiese kant was die wolk donker en aan die Israelitiese kant het dit die nag verlig. Die hele nag deur het die twee groepe nie nader aan mekaar gekom nie.

21. Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die Here het daardie hele nag die water met 'n sterk oostewind weggedryf, sodat die water oopgekloof en die see daar drooggelê is.

22. Die Israeliete het op droë grond deur die see gegaan, en die water het weerskante van hulle soos 'n muur gestaan.

23. Die Egiptenaars het hulle agternagesit: die farao se perde, strydwaens en bemanning is almal agter hulle aan die see in.

24. In die vroeë môre het die Here uit die vuur- en wolkkolom afgekyk op die Egiptiese leër en verwarring onder hulle gesaai.

25. Hy het die wiele van hulle strydwaens laat uitval, sodat hulle skaars kon beweeg.Toe sê die Egiptenaars: “Ons moet wegkom van die Israeliete af, want die Here veg vir hulle teen Egipte.”

26. Maar die Here het vir Moses gesê: “Steek jou hand uit oor die see sodat die water oor die Egiptenaars, oor hulle strydwaens en bemanning kan stroom.”

27. Moses steek toe sy hand oor die see uit. Teen dagbreek het die see teruggestroom oor sy bodem en die Egiptenaars het hulle teen die water vasgevlug: die Here het hulle deur die see laat meesleur.

Eksodus 14