Deuteronomium 9:18-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

18. Daarna het ek, soos die eerste keer, veertig dae en veertig nagte lank voor die Here gelê en gebid. Ek het niks geëet en gedrink nie oor die groot sonde wat julle gedoen het. Julle het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en Hom uitgetart.

19. Ek was bang, want die toorn, die gramskap van die Here, het so teen julle ontvlam dat Hy julle wou uitroei. Maar ook hierdie keer het die Here na my geluister.

20. “Die Here was so kwaad vir Aäron dat die Here hom om die lewe wou bring, maar ek het destyds ook vir hom gebid.

21. Ek het daardie gruwelike ding, die kalf wat julle gemaak het, gevat en in die vuur gegooi. Toe het ek dit stukkend geslaan en dit so fyn soos stof gemaal en dit in die spruit gegooi wat van die berg af kom.

22. “Julle het die Here ook nog by Tabera, by Massa en by Kibrot-Taäwa kwaad gemaak.

23. “Toe die Here julle van Kades-Barnea af weggestuur het, het Hy gesê: ‘Trek op en neem die land wat Ek vir julle gegee het, in besit.’ Maar julle het in opstand gekom teen die bevel van die Here julle God. Julle het nie op Hom vertrou nie en Hom nie gehoorsaam nie.

24. Vandat ek julle leer ken het, was julle in opstand teen die Here.

25. “Ek het die veertig dae en veertig nagte voor die Here gelê en gebid, want Hy wou julle vernietig.

26. Ek het tot Hom gebid: Here my God, moet tog nie u volk vernietig nie. Hy is u eiendom, U het hom gered toe U hom deur u groot mag en met kragtige dade uit Egipte laat wegtrek het.

27. Onthou tog u dienaars Abraham, Isak en Jakob. Moenie aandag gee aan die hardkoppigheid van hierdie volk nie, aan hulle opstandigheid en hulle sonde nie.

28. Waarom moet die mense van die land waaruit U ons laat trek het, sê: ‘Omdat die Here nie die Israeliete kon bring in die land wat Hy hulle beloof het nie en omdat Hy hulle haat, het Hy hulle laat wegtrek om hulle in die woestyn om die lewe te bring?’

29. Hulle is tog u volk, u eiendom wat U deur u groot mag en met kragtige dade laat wegtrek het!”

Deuteronomium 9