12. “Toe het die Here vir my gesê: ‘Gaan gou ondertoe, want jou volk wat jy uit Egipte laat trek het, het afvallig geword. Hulle het baie gou weggedraai van die koers af wat Ek vir hulle aangewys het, en hulle het vir hulle 'n afgodsbeeld gegiet.’
13. “Die Here het verder vir my gesê: ‘Ek het gesien dat dit 'n hardkoppige volk is hierdie.
14. Jy moet My nie probeer keer nie. Ek wil hulle uitwis en hulle naam van die aarde af wegvee. Dan sal Ek jou 'n sterk nasie maak, groter as hulle.’
15. “Toe het ek omgedraai en terwyl die berg gebrand het, het ek afgegaan met die twee klippe van die verbond in my hande.
16. Ek het gesien hoe julle teen die Here julle God gesondig het deurdat julle vir julle 'n beeld in die vorm van 'n bulkalf gemaak het. Julle het baie gou weggedraai van die koers af wat die Here vir julle aangewys het.
17. Ek het die twee plat klippe wat ek in my hande gehad het, flenters gegooi in julle teenwoordigheid.
18. Daarna het ek, soos die eerste keer, veertig dae en veertig nagte lank voor die Here gelê en gebid. Ek het niks geëet en gedrink nie oor die groot sonde wat julle gedoen het. Julle het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en Hom uitgetart.
19. Ek was bang, want die toorn, die gramskap van die Here, het so teen julle ontvlam dat Hy julle wou uitroei. Maar ook hierdie keer het die Here na my geluister.
20. “Die Here was so kwaad vir Aäron dat die Here hom om die lewe wou bring, maar ek het destyds ook vir hom gebid.
21. Ek het daardie gruwelike ding, die kalf wat julle gemaak het, gevat en in die vuur gegooi. Toe het ek dit stukkend geslaan en dit so fyn soos stof gemaal en dit in die spruit gegooi wat van die berg af kom.
22. “Julle het die Here ook nog by Tabera, by Massa en by Kibrot-Taäwa kwaad gemaak.
23. “Toe die Here julle van Kades-Barnea af weggestuur het, het Hy gesê: ‘Trek op en neem die land wat Ek vir julle gegee het, in besit.’ Maar julle het in opstand gekom teen die bevel van die Here julle God. Julle het nie op Hom vertrou nie en Hom nie gehoorsaam nie.