Deuteronomium 21:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. “Wanneer iemand wat om die lewe gebring is, gekry word waar hy in die veld lê in die land wat die Here jou God aan jou as besitting sal gee, en niemand weet wie hom doodgemaak het nie,

2. moet jou leiers en jou regters uitgaan en die afstand meet van hom af tot by die stede in die omgewing.

3. Die leiers van die stad naaste aan die lyk moet dan 'n vers vat wat nog nooit in 'n juk getrek het nie

4. en haar na 'n spruit toe bring wat loop en waar daar nie geploeg of gesaai is nie. Daar by die spruit moet hulle die vers se nek breek.

5. Dan moet die Levitiese priesters wat deur die Here jou God uitgekies is om Hom te dien en in sy Naam die seën uit te spreek, nader kom en enige geskil of aanklag moet deur hulle uitspraak afgehandel word.

6. Al die leiers van die stad naaste aan die lyk moet dan hulle hande was bo-oor die vers waarvan die nek gebreek is by die spruit,

7. en sê: ‘Ons het nie hierdie bloed vergiet nie en ons het ook nie gesien wie dit gedoen het nie.

8. Here, U wat vir Israel verlos het, spreek tog u volk vry en moenie dat die skuld van bloed wat onskuldig vergiet is, op u volk Israel bly nie.’ Dan sal hulle vry wees van die skuld vir die dood van die man.

Deuteronomium 21