3. Jy mag nie brood met suurdeeg in eet nie, maar sewe dae lank moet jy ongesuurde brood eet. Dit is brood wat herinner aan jou swaarkry, en jy moet jou lewe lank dink aan die dag waarop jy uit Egipte weg is: hoe jy haastig daar weg is.
4. Sewe dae lank mag daar in jou hele gebied geen suurdeeg wees nie. Daar mag nie van die vleis wat jy op die eerste aand offer, tot die volgende môre toe oorbly nie.
5. Jy mag nie die paasoffer bring in enige van die woonplekke wat die Here jou God vir jou gee nie.
6. Jy mag dit net bring in die plek wat die Here jou God sal kies om sy Naam daar te laat woon. Daar moet jy die paasoffer bring in die aand, teen sononder, want julle het in die aand uit Egipte uit weggetrek.
7. Braai en eet dit in die plek wat die Here jou God sal kies. Gaan dan die volgende môre terug huis toe.
8. Ses dae moet jy dan nog ongesuurde brood eet, en op die sewende dag moet julle tot eer van die Here jou God saamkom. Op hierdie dag mag jy geen werk doen nie.”
9. “Jy moet sewe weke bereken van die dag af dat jy jou graan begin oes.
10. Vier die fees van die weke tot eer van die Here jou God. In die mate waarin die Here jou God jou met voorspoed geseën het, moet jy 'n vrywillige offer vir Hom bring.