Deuteronomium 1:23-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

23. Ek het gedink dis 'n goeie plan en ek het twaalf man uit julle gekies, een uit elke stam.

24. Hulle het die Bergwêreld ingegaan en by die Eskolvallei gekom en dit verken.

25. Hulle het van die vrugte van die land na ons toe gebring en vir ons kom sê: ‘Die Here ons God gee ons 'n goeie land.’

26. “Maar julle wou nie optrek nie. Julle het julle verset teen die opdrag van die Here julle God.

27. Julle het in julle tente bly sit en mor, en julle het gesê: ‘Omdat die Here ons haat, het Hy ons uit. Egipte laat trek om ons aan die Amoriete oor te gee sodat hulle ons kan uitroei.

28. Waarheen kan ons nou gaan? Ons broers het ons moed gebreek toe hulle gesê het: Daar woon 'n volk wat groter en sterker is as ons. Hulle het groot stede en sterk, hoë vestings. Ons het ook die Enakiete, die reuse, daar gesien.’

29. “Toe het ek vir julle gesê: ‘Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie.

30. Die Here julle God gaan voor julle uit en Hy sal vir julle veg net soos Hy in Egipte voor julle eie oë alles vir julle gedoen het.

31. Julle het in die woestyn ondervind hoe die Here julle God julle die hele pad waarlangs julle tot hier toe gekom het, gedra het soos 'n man sy seun dra.’

32. Maar tog het julle nie julle vertroue gestel in die Here julle God

33. wat op die pad voor julle vooruit gegaan het om kampplekke vir julle uit te soek nie. Snags het Hy vir julle julle pad met vuur aangewys en bedags met 'n wolkkolom.

Deuteronomium 1